Spanje voorlopig uit politieke krisis

z-29Die Spaanse Sosialiste het bekend gemaak dat hulle die weg baan vir die daarstelling van ’n minderheidsregering van die konserwatiewe Volksparty (PP) wat nou reeds ’n jaar lank as regeerder waarneem.

Met die skikking het die Sosialiste nie net bollemakiesie geslaan nie, maar ook ’n einde gebring aan die politieke krisis in die land.

Spanje sou ’n derde algemene verkiesing moes hou om die dooiepunt uit die weg te ruim wat in die vorige twee verkiesings van die land nie daarin kon slaag om uit die vier politieke partye ’n koalisie saam te stel wat as ’n meerderheid kan regeer nie.

Al die pogings van die Volksparty se leier, Mariano Rajoy, om ’n koalisie aan te gaan met van die drie partye, het misluk, en sou die kiesers teen Desember weer na die stembus moes gaan ingevolge die land se grondwet.

Tydens die Sosialiste Party, (PSOE) se kongres het 139 stemgeregtigdes ten gunste van ’n Volksparty as minderheid regeerder gestem, teenoor 95 wat daarteen gestem het.

Die verandering in optrede van die sosialiste hou verband met die uittrede van die PSOE leier, Pedro Sánchez, wat enige vorm van samewerking met die Volksparty geweier het.

Sánchez het bedank nadat die sosialiste veel swakker gedoen het in twee tussenverkiesings en deur die kiesers blameer is vir die swak vertoning.

Foto – Premier Mariano Rajoy