Rykdom van Afrikaans

Afrikaans is skerpDeesdae probeer wetenskaplikes om diere en plante so te beheer dat hulle nie met uitheemse rasse verbaster of verdring word nie. DNS-toetse is aan die orde van die dag en indringerplante word hand en tand beveg. Dieselfde neiging behoort by taalkundiges inslag te vind as hulle met ontwikkeling en bewaring op die voorpunt wil wees en verhoed dat Afrikaans verdring word, want dit sal sonder twyfel sneeubal. Geen stelsel kan ooit stilstaan nie. Dit gaan òf vorentoe òf agteruit. Die opneem van woorde soos oukei, boks, steak, kwotasie en talle ander terwyl daar verskeie pragtige gelykbetekende en beskrywende woorde voor bestaan, het reeds agteruitgang aangehelp.

Verskillende vakkundiges hanteer naam– of woordskepping op uiteenlopende wyses – die natuurwetenskaplikes neem vanuit klassieke tale (Latyn of Grieks) en dan klink die Romaanse woorde na Engels hoewel dit nie so is nie. Die geesteswetenskappe daarenteen skep Dietse benamings. ‘n Mens kry ook binne een vakgebied Dietse sowel as vreemde skeppings (byvoorbeeld eksistensie teenoor bestaan in die wysbegeerte). Raai wie gee om vir ons taal se voortbestaan?

Afrikaans as taal word myns insiens deur beriggewers afgeskeep. Oor die radio, beeldradio of in die pers word baie meer aandag aan sportsoorte soos rugby en gholf en krieket gegee en aan musiek en ander vermaak. Taalrubrieke word grootliks vermy terwyl ons elke oomblik in Afrikaans dink en praat, baie meer as aan enige sport of ander voorwerp of vakgebied. Trouens, wanneer ons oor ‘n vakgebied dink of praat, word dit in jou taal gedoen.

Asseblief, moenie dat ons taal onder gaan nie. Help om dit op te bou en die taalkultuur te behou. Taalkundiges en beriggewers moet ons mense aanmoedig om skeppend te wees en verstandelike traagheid te bestry. Voorgangers se voorbeelde en leiding is noodsaaklik. Wanneer ‘n woord of benaming voortdurend oor die radio of in die pers gebruik word, word dit ‘n algemene gebruik vir Afrikaanssprekendes en klink dit gou-gou nie meer vreemd nie. Woorde soos inkopies (shopping), winskope (specials), gereedskap (tools), skakelaar (switch), middellyn (halflyn) en nou later ook viertrekvoertuig (vier-by-vier) is goeie voorbeelde.

Beriggewers soos hiervoor genoem is ‘n noukeuriger beskrywende woord as “media”. Media is immers ‘n meervoudswoord in plaas van enkelvoudig oorkoepelend vir koerante, nuusblaaie, radio’s en beeldradio’s. Oorkoepelend soos plantasie (enkelvoud) vir ‘n klomp aangeplante bome. Medium kan ‘n klomp betekenisse hê en is dikwels onduidelik.

Nog meer pragtige oorspronklike Afrikaanse uitdrukkings weerspieël die eiesoortigheid en rykdom van Afrikaans.

By mangel van  =  By gebrek aan.

Manteldraaier  =  Iemand wat met almal saampraat.

Dit is sy lus en sy lewe  =  Hy het sy grootste plesier daarin.

Heuning in die mond dra  =  Vol vleitaal wees.

Twee brille op hê  = Dronk wees.