Nog bedankings uit Strafhof

Nog ’n Afrikaland het besluit om uit die Internasionale Strafhof in Den Haag te bedank en volg kort na die besluit van die ANC regering in Suid-Afrika om die liggaam te verlaat.

Die Gambië Republiek, aan die bo punt van Afrika, het pas aangekondig dat hy die Internasionale Strafhof bedank en het met die aankondiging die Strafhof verwyt en beskuldig van partydigheid deur hoofsaaklik Afrika lande te vervolg vir bepaalde oortredings.

Die bedanking is deur die land se Minister van Inligting, Sheriff Bojang, bekend gemaak tydens ’n media konferensie.

Vroeër het Burundi besluit om uit te tree, waarna die omstrede president Zuma van Suid-Afrika die voorbeeld gevolg het.

In die verklaring van die Gambianse regering word dit gestel dat die besluit geneem word weens die vervolhing en die vernedering van gekleurdes in Afrika, wat nie langer verduur gaan word nie.

Sedert die stigting van die Internasionale Strafhof in 2002, het tien voorvalle in die Strafhof beland, waarvan nege weens wanpraktyke van Afrika lande was.

Gambië sê die Strafhof moet ook optree teen Westerse lande wat hulle skuldig maak aan oorlogsmisdade en ander vergrype.

Politieke ontleders meen dat Afrikalande die een na die ander, die Strafhof gaan verlaat om hulle eensgesindheid te demonstreer.

Foto – Sheriff Bojang