Motor rubriek – Hudson Hornet 1951/1954

hudson-hornetDie Hudson Hornet is aan ons ouer lesers bekend maar dit is nodig dat van ons jonger lesers daarvan kan kennis neem, want hierdie motor wat deur Hudson Motor Car Company in Detroit Michigan gebou was, was ‘n motor van formaat. Hierdie motors is tussen 1951 en 1954 gebou en daarna het daar ‘n herstilering plaasgevind en gedurende 1955 is die naam verander na Nash. Gedurende 1951 is daar 43 656 van die motors gebou.

Sy padgedrag was van so ‘n aard dat die Cadillac wat beskou was as die motor, eintlik in sy skaduwee gestaan het. Die Hudson Commodore van 1948 is gebruik as basismodel maar die vloer is verander en het ‘n plat struktuur verkry en het dan die benaming van “step down” gekry. Dit het tot gevolg gehad dat wanneer daar in die motor ingeklim is, was daar baie min moeite aan verbonde.

Die motor se padgedrag het dit ‘n besonderse motor gemaak en verder kon dit met gemak ses volwassenes vervoer. ‘n Lang bank sitplek is voor en agter gepas en beenspasie was nie ‘n probleem nie. Op die pad het dit die indruk geskep dat dit “neer hurk” want die agterste wiele was amper nie sigbaar nie en die lang vloeiende lyne van die sykante het daardie indruk verhoog.

Dit was beskikbaar as ‘n vierdeur sedan of ‘n tweedeur koepee met ‘n harde kap.  Gedurende 1952 en 1953 is daar geringe kosmetiese veranderings aangebring maar die meganiese onderdele is onveranderd gelaat.

Die Hudson Hornets wat tussen 1951 en 1953 gebou was, is aangedryf deur ‘n hoë werkverrigting, sessilinder H145,  5 liter, hoë kompressie inlyn kragbron met ‘n dubbelkeel vergasser wat 108 kW beskikbaar gestel het met wringkrag van 373 Nm teen 3800 o.p.m. In 1954 is die krag verhoog na 127 kW en twee weergawes was beskikbaar met ‘n plat silinderkop enjin of ‘n sy-klep enjin.  ‘n Drie spoed handratkas, ‘n drie spoed handratkas met ‘n snelrat of outomatiese ratkas was gepas en het die krag oorgedra na die agterwiele. Gedurende 1952 is daar ‘n “Twin H-Power” weergawe beskikbaar gestel waarop twee enkelkeel vergassers gepas was met ‘n luginlaat op die enjinkap wat die lug deur die lug suiweraars in geforseer het om teen hoë snelhede, beter werkverrigting te verskaf.

In die hande van enjin ontwikkelaars was dit moontlik om daarmee tot 180 km/uur te haal en dit was een van die eerste motors wat groot sukses tydens NASCAR renne behaal het. In die 1952 renne het Hudson in 27 van die 34 renne sukses behaal. Dit is gebruik vir stampkar renne, op grond bane en geplaveide renbane.

Gedurende 1954 is daar afgesien van die vloeiende lyne en het die bakwerk ‘n meer hoekige vorm aangeneem. Die sierrooster is ook verander en die luginlaat op die enjinkap was slegs kosmeties van aard. Die agterkant is ook verander na ‘n meer hoekige bouvorm maar die chroom voor en agter stampers is behou.

Gedurende 1954 het Nash Kelvinator en Hudson saamgesmelt en het American Motors Corporation tot stand gekom.  Vanaf 1957 was dit beskikbaar met ‘n 5.2 liter V8 Packard enjin.

Vandag is Hudson Hornets gesogte versamelaar items maar is moeilik bekombaar.