Minderhede rede tot ongelukkigheid met regspraak

hof-2Die regstelsel moet voortbou op goeie werk, en moet standpunt inneem teen regeringsbeleid wat die land en sy mense vernietig.

Die oproep kom van adv. Anton Alberts, VF Plus se parlementêre woordvoerder oor justisie.

Hy reken Suid-Afrika kan steeds tevrede voel met sy regstelsel in ʼn komplekse samelewing, maar hy sê terselfdertyd dat minderhede rede het om ongelukkig te voel oor uitsprake waar die regte van minderhede ter sprake is. Hy sê daar is verskeie hofuitsprake waarop die land trots kan wees. Dit sluit in die Nkandla-uitspraak van die Grondwethof, die al-Basjir-uitspraak, die beskerming van die reg om te stem vir buitelandse burgers en die toestaan van ʼn groepsgeding vir die verarmde Transnet-pensioenarisse. Uitsprake in AgriSA se saak oor minerale hulpbronne en die Renate Barnard-saak oor gelyke indiensneming dui egter daarop dat minderhede benadeel word.

“Waar transformasie-beleid ter sprake is, neig jurisprudensie ten gunste van regeringsbeleid ten koste van minderhede. ʼn Skokkende voorbeeld is die Grondwethof se uitspraak oor straatname in Pretoria wat daarop neerkom dat die Afrikaner se geskiedenis nie deel vorm van die groter Suid-Afrikaanse historiese narratief nie.

“Meer nog omdat dit lynreg indruis teen die letter en gees van die internasionale reg wat dit uitstippel dat minderhede se reg op selfbeskikking ʼn gegewe is soos vervat in artikel 27 van die Internasionale Verbond op Burgerlike- en Politieke regte, wat ook deur die Suid-Afrikaanse regering en parlement aanvaar en onderteken is. Nou word dit veronagsaam.

“Die ANC-regering het effektief artikel 9 van die Grondwet wat gelykheid waarborg gekaap deur die uitsondering op daardie reël soos vervat in artikel 9(2) die hoofreël te maak. Ingevolge die ANC se program van “transformasie” en “verteenwoordiging” moet alle vlakke van die samelewing verander om die demografiese realiteit van die land te weerspieël.

“Hierdie vertolking van die gelykheidsreël kom egter nêrens in die Grondwet voor nie. Tog word dit deur die Grondwethof geduld in regstellende aksie-sake. Op sy beurt skep dit ʼn vrypas vir die ANC om ʼn omgewing te skep waar enige organisasie of sportspan 100% swart mag wees, maar nooit 100% wit, bruin of Indiër nie. Dit is ʼn wesenlike ondergrawing van minderheidsregte.

“Dit is die fundamentele rede waarom minderhede ook hul rug op die ANC gekeer het. Die internasionale reg is aan minderhede se kant met die ANC wat homself van die internasionale morele hoëgrond verwyder het deur ʼn regeringsnorm van bedrog, staatskaping, minderheidsverdrukking en ekonomiese ineenstorting.”