Lupinus polyphyllus seker van die kleurvolste plante in die tuin

lupinesLupinus is ou bekende blomplante in ons tuine in Suid Afrika. Dit vertoon so mooi in beddings en daar is deesdae sommer allerhande kleure. Die bekendste kleur is seker die blou en pers blomme, maar almal is pragtig en die een kleur wil mooier wees as die ander.

Lupinus polyphyllus is in die familie Fabaceae en die rang is Fabales. Hierdie plante is wel bekend in Suid Afrika maar kom oorspronklik van Noord-Amerika, die suide van Alaska en ook Kanada. Hulle groei baie maklik waar daar baie waterstrome is en langs mere.

Hierdie plante is meerjarig en kruidagtig. Hulle vertoon mooi wanneer hulle in massas aangeplant word. Lupines dra hul buisvormige blomme aan lang sterk stingels wat aan die plant uit die grond spruit. Die stingels kan tot 1,5 meter lank word. Die blare van hierdie plante is palmvormig en dit vorm ‘n blompatroon aan ‘n kort stingeltjie en dit is baie dig opmekaar. Die blare is tussen 3 en 15 cm lank. Waar hierdie plante in die veld gesien word, sal die blomme meestal blou na pers wees.

Dit is regtig tuinblomme en lyk dramaties met al die kleure. Tuin lupines neig altyd na blou blomme. Na ‘n paar jaar in die tuin sal hierdie plante weer blou blomme dra al was dit ander kleure. Anders as meeste ander plante, floreer Lupines nie in ryk grond nie. Hulle leef net ‘n paar jaar indien dit in ryk grond geplant word, want hulle verrot en gaan dood. Deur die jare is hierdie plante gekweek met groter en langer blomstingels.

Probeer gerus ‘n bedding Lupines aanplant, dit lok bye en skoenlappers na die tuin. Daar is egter in sommige lande ‘n verbod op die plante geplaas omdat dit maklik ‘n tuin of veld kan inneem en word geklassifiseer as onkruid.

Lupines blom in die somer en word soms langs paaie aangetref. Dit word met saad gekweek. Indien u saad oes, kan dit lank gestoor word voordat dit gesaai word en sal nogtans ontkiem en mooi plante word.

Tuiniers, geniet u tuin en ons hoop u gaan sommer heerlike reën kry.