Kroonprins stel volk gerus

z-14Die volk van Thailand treur oor die heengaan van hulle koning wat 70 jaar lank regeer het, en daarom het die kroonprins sy land se mense aangesê om nie bekommerd te wees omdat hy nie dadelik as koning ingesweer word nie.

Hy het gesê ’n jaar van rou behoort gevolg te word, want die meerderheid van die bevolking het nooit ’n ander koning geken nie, en daarom moet die geleentheid gebied word om as volk deur die routyd te worstel.

Hy het die volk gemaan tot kalmte, en gevra dat die beëdiging moet wag tot die volk klaar getreur en gerou het oor ’n geliefde koning.

Die hoof van die land se regerende militêre Junta het gesê die volk moet nie bekommerd wees omdat die kroonopvolger nie dadelik ingesweer word nie, en hoef hulle ook nie te kwel oor die land se administrasie nie, want dit sal intussen in stand gehou word.

Geen datum is nog bekend gemaak nie vir die teraardebestelling van die 88-jarige koning wat sy mense gelei het tot stabiliteit oor ’n tydperk van 70 jaar.