Hewige verkiesingstryd in Duitsland verwag

z-110Die kandidatuur van Angela Merkel vir die 2017 verkiesing blyk ’n uitgemaakte saak te wees, te oordeel aan die seine wat haar Bavaria vennoot uitstuur toe hy gesê het die twee partye sal die opposisie kan weerstaan te midde van hulle onderlinge verskille.

Bondskanselier Angela Merkel en haar afvaardiging van die Christen Demokratiese Unie (CDU) se gesprek met Bavaria se Horst Seehofer afvaardiging van die Christen Sosiale Unie (CSU), het klaarblyklik goed afgeloop en is haar kandidatuur blykbaar in kanne en kruike.

Volgens die algemene sekretaris van die CDU, Peter Tauber, was die besluit “die wens van menige” dat Merkel haarself vir ’n vierde termyn beskikbaar stel as kandidaat vir die amp as Bondskanselier.

Die Duitsers gaan in September 2017 weer na die stembus, en waarnemers meen dit gaan ’n hewige en bloedige stryd wees met die Linkse Party en Groenes wat kragte gaan saamgooi teen Merkel.

Aan die ander kant moet rekening gehou word met die opkoms van die Alternatief vir Duitsland (AFD) wat skerp opgang gemaak het sedert die onwettige immigrante krisis en die terroriste aanvalle in Europa.

Foto – Horst Seehofer en Angela Merkel