EFF verbind met plaasbesetting by Brits

plaasbesetting-brits-1‘n Twee EFF-lede word verbind met die onwettige besetting van ‘n boer se plaas naby Bokfontein, in die Brits-omgewing.

Die besetting het Sondagoggend vroeg begin,  toe die boer, wat verkies om anoniem te bly, deur sy buurman gewaarsku is dat daar mense op sy grond besig is en skynbaar planne het.

Hy het onmiddellik die polisie laat weet, en hy het saam met die polisie op die toneel opgedaag.  Daar was ongeveer 300 mense wat aangedui het dat hulle nou op die grond gaan bly.

Die polisie het eenvoudig gesê dat daar te veel mense is, en dat die boer maar Maandagoggend sy prokureur moet kry vir ‘n uitsettingsbevel, en daarop het die polisie hulleself onttrek. Die besetters het toe begin om die erwe uit te meet, en om gate te grawe en pale te plant. Een erf is al heeltemal omhein.

‘n Raadslid van VF+, Hannetjie Grobbelaar, het van die voorval te hore gekom en haar na die toneel gehaas. Sy het met die plaaslike bevelvoerder van die polisie, brigadier Marx, kontak gemaak. Hy het belowe om die polisie daarheen uit te stuur, maar toe Die Vryburger met haar en die boer gepraat het, was daar nog geen teken van die polisie nie.

Die boer woon nie self op die grond nie. Dit is erfgrond van sy pa, maar dit grens intussen aan ‘n plakkerskamp. Voorheen was dit ‘n suksesvolle aarbei plaas, maar die boer het aan Die Vryburger gesê dat geen boerdery meer moontlik is daar nie, want as dit nie gesteel word nie, word enige saailing deur die plakkerskamp se bokke opgevreet.

Die polisie se optrede word met belangstelling afgewag.

Foto: Die plaasbesetters naby Brits