Chaparral: botaniese naam Larrea divaricata, Larrea tridentata

chaparralLarrea divaricata is ‘n kruidagtige struik, redelik onbekend aan ons. Die naam Chaparral verwys na die area waar plante aanpas by droogtes, son, vuur en enige gebied waar dit moeilik is om iets te plant. Dit kom veral voor in die woestyngebiede in die Suidweste van Amerika en in die Noorde van Mexiko ook in Argentinië en Bolivia.

Larrea tridentate is in die familie Zygophyllaceae. Larreas word tussen 2 en 6 meter hoog met klein, donkergroen blare wat heldergroen verkleur nadat dit gereën het en het ‘n harpuisagtige tekstuur. Dit is ‘n immergroen struik in die gebiede waar dit groei. Die blare van hierdie plant word tussen 7 en 18 mm lank n tot 8.5mm in diameter.

Hierdie struik dra heldergeel blomme met vyf kroonblare. Die hele plant ruik na kreosoot en dit is dan ook waarom dit die “creosote plant” genoem word.  Wanneer hierdie plante ouer word, gaan van die ou takke dood en dan verdeel die plant en vorm aparte krone. Dit gebeur eers na baie jare. Volgens bronne word hierdie struike tot 90 jaar oud. Larreas groei in goed gedreineerde grond. In sekere gebiede waar hulle maklik groei, is hulle geneig om die tuin in te neem en raak dan soos onkruid.

Hierdie plante word ook as tradisionele medisyne gebruik. Chaparral tee kan gebruik word vir verkoues en hoes. Volgens bronne kan dit ook gebruik word vir artritis en maagpyn. Die Amerikaanse Indiane het dit gebruik vir allerhande kwale selfs om aan die vel te smeer vir enige tipe velsiekte. Dit was ook gebruik soos ‘n deodorant onder die arms en voete. Dit is ook al geklassifiseer as ‘n anti-oksidant en help ook vir gewigsverlies. Indien u enige lewer- of nierkwaal het, moet u dit onder geen omstandighede gebruik nie. Dit kan ook vel irritasie by sommige mense veroorsaak.

Onthou om altyd u geneesheer te raadpleeg alvorens u enigsins kruie as medikasie wil gebruik, veral indien u reeds op medikasie is.

Geniet u tuin en plant gerus ‘n paar bekende kruie aan. Dit aard goed in potte.