Boere juig oor reën, droogte nog nie verby

TLU SA se Algemene Raadsvergadering in Pretoria het met groot dank kennis geneem van die reën wat op verskeie plekke uitgesak het.  Die unie se president, mnr. Louis Meintjes, sê dat boere reikhalsend uitsien na die reën en dat hulle uitsien na ‘n goeie reënseisoen na die knellende droogte. “Die gees van opgewondenheid na die reën, was opmerklik en aansteeklik tydens ons vergadering,” sê mnr. Meintjes.

Hy wys egter daarop dat die gesegde lui dat dit nie gras reën nie. “Dit gaan nog geruime tyd duur voordat die positiewe effek van die reën voelbaar gaan wees vir die boere. In  sommige gevalle was die droogte van so ‘n aard, dat dit meer as net een seisoen sal nee mom te kan herstel. Daarom gaan TLU SA volstoom voort met sy droogtehulp aan boere. TLU SA is beskeie bly oor die feit dat hy uit sy droogtefonds heelwat boere kon help, en daar bestaan steeds ‘n behoefte aan hulp in die vorm van voer en geldelike donasies,” sê mnr, Meintjes.

Die hoofbestuurder van TLU SA, mnr. Bennie van Zyl, sê hy is baie opgewonde oor ‘n groot skenking van 1 000 bale wat deur een van TLU SA se lede in Makoppa geskenk is. Dit is 1,25m ronde bale, en die waarde daarvan beloop derduisende rande. “Daar is groot nood in die Noordwes-omgewing en ons wil graag die bale versprei aan boere in Stella, Coligny en Schweizer-Reneke. Daar is tans net ‘n haakplek rondom vervoer en ons wil ‘n beroep doen op mense wat daarmee kan help, om met my by TLU SA kontak te maak,” sê mnr. Van Zyl.wp_20161019_11_38_58_pro

Foto: TLU SA se Algemene Raad in sitting in Pretoria