Worsboom / Kigelia africana

worsboom‘n Pragtige boom vir die klein of groot tuine. Die worsboom is in die familie Bigniaceae.

Dit is ‘n boom wat regop groei met lang digte takke en die stam is glad en word redelik dik. Kigelia africana se stam is effens aan die vaal of ligbruin kant en die bas is soms vlokkerig. Die boom groei regop en het ‘n digte ronde spreiende kroon wat 18 – 20 meter wyd kan word. Die blare van hierdie boom is donker groen en leeragtig. Dit groei dig aan die takke van die boom en is saamgesteld.

Worsbome dra die pragtigste groot, gekreukelde, donkerrooi blomme in die vroeë somer. Dit blom welig en hierdie donkerrooi blomme is opmerklik aan die boom. Hierdie boom was van die eerste bome om in die Kruger Wildtuin te blom, en dit sommer al in Augustus.

Hierdie boom dra groot vrugte wat soos worse aan takke hang en dit vertoon so mooi en die vrugte lyk amper soos ‘n kremetartboom se vrugte, maar is bietjie langer gevorm. Die vrugte is grys-bruin wat 800 x 120 mm lank word en elke vrug hang aan ‘n stingeltjie aan ‘n tak. Hierdie vrugte kan tot 9 kg weeg. Die worsboom dra van Desember tot Junie vrugte.

In sekere gebiede van Afrika  rooster hulle die vrugte en maak drankies daarvan. Die mense gebruik ook die dik stamme om meubels te vervaardig en ook om kano’s te maak om op die mere te vaar. Die vrugte word ook fyngedruk en word dan gebruik om velsiektes te genees. Vars vrugte kan egter nie net so geëet word nie. Volgens bronne sal dit diarree veroorsaak indien dit vars geëet word. Dit moet gekneus en gerooster word alvorens dit geëet kan word. Dit kan ook blase in die mond veroorsaak. Wanneer die vrugte groen is, is dit toksies en moet die hande baie goed gewas word wanneer dit gepluk word.

Worsbome groei baie goed naby water en kan tot 20 meter hoog word.  Dit aard in ‘n groot deel van die warm gebiede in ons land. Die worsbome groei vinnig, maar het ‘n aggressiewe wortelstelsel. Moet dit dus nie naby die woonhuis om rioolstelsels plant nie.

Plant worsbome in ‘n groot gat  in goeie grond en vol son en gee gereeld water. U kan dit gerus oorweeg om een van hierdie bome op die sypaadjie te plant. Dit lok insekte en skoenlappers na die tuin.

Tuiniers, geniet die lente in u tuine tot volgende keer.