Verkryging en behoud van vryheid in perspektief

perspektiefNa die herdenking van Volkserfenisdag, kyk ons terug na etlike rubrieke, wat die belangrikheid van gekwalifiseerde stemreg, leierskap en gesonde strukture uitgelig het.

Maar hoe verkry ´n volk vryheid, belangriker hoe word daardie vryheid behou?

Deur eerlik te handel in antwoord op daardie tydlose vraag: AFRIKANER, QUO VADIS?

Voordat ons volk nie in opregte ootmoed erken dat ons vandag sit met die resultate van ons eie mistasting en vergrype nie, kan ons nie by die punt van verootmoediging kom nie.

Eers wanneer daar met opregte erns teruggegryp word na die Christelike erfenis van ons herkoms, eerder as ons blote kultuur-historiese erfenis, afstamming of nog wat, beweeg ons verder weg, eerder as nader aan die herwinning van volksvryheid.

Hierdie geld kollektief, maar ook individueel.  Baie mag nou meen “…maar ek en my gesin…”, maar dan moet ons ook onthou dat die sonde van een kan ´n hele volk in droefenis dompel.  Veral indien ons daardie “ene”, soos tans, ongelukkig die meerderheid vorm en die minderheid hulle sonder vermaning laat begaan.

Uiteindelik kan ons wik en weeg, woel en werskaf, met die sterkste leiers, beste planne en die mees effektiewe strukture, maar as God die (volks)huis nie bou nie…

Meer nog: indien die volk hulleself verootmoedig met die gedagte dat ons dan ons vryheid móét herwin, mis ons die feit dat ons in geen posisie is om enige eis te stel, of selfs enige versoek te rig vir ons vryheid nie.  Dit is weggegee!

Benewens verootmoediging moet die aanleidende gemaksug en materialisme, die diepliggende afkeur in sekere tipes werk – werk waarvoor bediendes en tuinwerkers ingevoer is – maar ook die aanbidding van sport en genot eers reggestel word. Om klakkeloos met elke Jan Rap en sy maat “samewerking” en “vrede” te soek, veral diegene wat in die oë van die wêreld suksesvol blyk te wees, is om in wese op eie vermoë te bou.  Die resultaat is dan voorspelbaar.

Wanneer ons op 24 September teruggedink het oor ons kultuur-historiese erfenis, kom ons maak weer erns met die Beskikker en Gewer van daardie erfenis.  Met dankbare erkentlikheid moet ons Hóm weer eerste stel in ons daaglikse ommegang, nie om ons vryheid te herwin nie, maar in dankbaarheid vir soveel gawes en genade wat ons steeds geniet.

Ook en veral vir uiteindelike, ewige vryheid wat ons reeds het en nie hier kan verloor nie.