Veediefstal bly ‘n kopseer

veediefstalTwee verdagtes verskyn vandag in die landdroshof op Klerksdorp in verband met veediefstal nadat hulle betrap is met 26 beeste en 18 skape ter waarde van sowat R160 000.

Veediefstal bly een van die groot kopsere in die landboubedryf. Heelwat boere meld nie meer sake aan nie omdat hulle glo dat die polisie in elk geval nie daaraan aandag gee nie.

Op heelwat plekke egter, is boere vol lof oor flinke optrede van die polisie. In Edenville werk polisie en boere goed saam, en onlangs is daar 3 mense gearresteer vir die diefstal van 11 beeste wat reeds op ‘n vragmotor gelaai was, en in ‘n ander geval het die polisie vee deur die nag gevind en die eienaars gevra om dit te identifiseer nog voor hulle geweet het dit is gesteel.

In Warmbad-omgewing is boere ook tevrede met optrede van die polisie en veral die veediefstal eenheid.

Boere is wetlik verplig om hulle vee te brandmerk, en dit help die polisie om werklike eienaars vinnig op te spoor.

‘n Area wat tans egter onder veediefstal gebuk gaan, is Devon en Nigel. In een van die jongste gevalle is 7 Nguni-beeste geslag op die plaas Bosmanskop van mnr. Petrus Botha. Vroeër die week is 18 dragtige ooie gesteel by mnr.  Armand van Rooyen, op die  R550 tussen Nigel en Devon.

Foto: Beeste wat op ‘n plaas geslag is deur veediewe