Universiteite bly kookpotte

feesmustfall3Joernaliste wat verslag gedoen het oor die betogings by die Universiteit van Johannesburg (UJ), is na bewering deur privaat veiligheidswagte aangeval en aangerand.

Dit is die jongste in die betogings by kampusse landwyd, waar studente hoofsaaklik betoog teen die betaling van klasgelde. Hulle wil gratis opgelei word by universiteite.

Ook op die Kingsway-kampus van UJ word privaat veiligheidswagte daarvan beskuldig dat hulle studente aangerand het.

Die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap het sy Alice- en Oos-Londen-kampusse gesluit tot ná ‘n raadsvergadering op 10 Oktober. Studente boikot al byna drie weke lank klasse by die universiteit. Studente wat wel vir klasse opdaag, word deur ander studente weggejaag wat nie wil hê die akademiese program moet voortgaan nie.

By die Universiteit van Limpopo is studente aangesê om koshuise op die Turfloop-kampus te verlaat nadat alle klasse deur die universiteit gestaak is.