Switsers stem vir groter spioenasie

z-2Die kiesers van Switserland het die afgelope naweek ten gunste van die konfederasie se versterkte spioenasie netwerk gestem.

Die meerderheidsbesluit het gekom te midde van die opposisiepartye se beswaar dat Switserland se neutraliteit daardeur benadeel kan word.

Die intelligensiediens van Switserland word beklee met veel meer mag na die kiesers goedkeuring gegee het met ’n stewige meerderheid toe 65,5% ten gunste van die uitbreiding gestem het.

Die nuwe wet waarvoor goedkeuring verkry is, verwyder glo die struikelblokke wat voorkom het dat die owerhede sekere inligting mag gebruik.

In gevolge die nuwe wet, sal die Federale Intelligensiediens by magte wees om telefoon gesprekke te tap, e-posse te ondersoek, en enige ander Internet aktiwiteite na te gaan om enige moontlike kuberkrakers, spioene en terroriste op te spoor.

Die wet laat die owerheid toe om versteekte kameras en mikrofone op te stel en na te gaan wat vermoedelik deur verdagte misdadigers gebruik word.

Die opposisie se teenstand het hoofsaaklik van die Groen Party gekom wat beweer dat die maatreëls weinig sal bydra om terrorisme te bekamp terwyl die land se neutraliteit op die spel geplaas word.

Switserland is bekend daarvoor dat die land ’n besondere demokratiese bestel het wat kiesers raadpleeg vir enige omstrede aangeleentheid deur middel van referendums, waarvan die uitslag blitsvinnig bekend gemaak word.