Spaanse Sosialiste erg verdeeld

z-62Minstens 17 senior lede van die Spaanse Sosialiste Party het weens hulle verskille met die party se leier, Pedro Sanchez, die party se topbestuur verlaat.

Die ernstige verdeeldheid in die tweede grootste politieke party van Spanje, kan die nasionalistiese Volksparty van Mariano Rajoy moontlik bevoordeel in die volgende algemene verkiesing.

Die Sosialiste Party het bykans die helfte van sy 38 uitvoerende bestuurslede verloor toe die ontevredenes besluit het om uit hulle ampte te bedank.

Tesame met twee vorige lede van die topbestuur wat vroeër bedank het, en die een wat weens siekte uitgetree het, is minder as die helfte van die topbestuur nog in hulle poste.

Die moontlikheid word ook voorsien dat die Volksparty nou as minderheidsregering aanvaar kan word indien die 17 lede saam met die Volksparty stem in die parlement.

Met die Volksparty se goeie vertoning tydens die verkiesing in twee deelstate verlede week, begin dit lyk of Spanje dalk nie ’n derde algemene verkiesing vanjaar hoef te hou nie.

Met die Sosialiste se swak vertoning tydens die verkiesing, is politieke ontleders van mening dat die Volksparty ’n meerderheid kan kry indien ’n algemene verkiesing wel gehou moet word.

Die Volksparty benodig net ses bykomende setels in die parlement om die land met ’n meerderheid te regeer.

Foto – Volksparty leier Mariano Rajoy