Rusland bewys die wêreld verkeerd

z-5Rusland het Dinsdag nuwe radarbeelde aangebied waarin duidelik uitgebeeld word dat die vliegtuig van vlug MH 17, beslis nie deur die pro-Russiese rebelle in die Oekraïne neergeskiet is nie.

Die Russiese beeldmateriaal toon glo dat die aanval nie vanaf die oostelike gebied afkomstig was nie, maar uit die Oekraïne.

Die beeldmateriaal wat deur Rusland vrygestel is, bots met die bevinding van die Nederlandse ondersoekspan.

Die inligting is vrygestel deur die Russiese minister van verdediging tydens ’n perskonferensie wat handel oor die radarbeeld van vlug MH17.

Die beeldmateriaal toon blykbaar dat geen missiel, vuurpyl of ander opvallende toerusting in die rebellemagte se besit was nie, maar op die radarbeeld van die Oekraïne se magte, is die toerusting te sien.

Rusland sê dit is opvallend dat die regering van die Oekraïne nie bereid was om hulle radarbeeld beskikbaar te stel vir ondersoeke nie.

Verlede jaar het ondersoekers beweer dat vlug MH17 neergeskiet is met ’n BUK-missiel wat afgevuur is deur die pro-Russiese separatiste.

Rusland het onderneem om die radarbeeld-materiaal aan die ondersoekspan beskikbaar te stel.

Die vliegtuig is neergeskiet met 298 mense aan boord waarvan niemand die ramp oorleef het nie.