Obama kry weer teenstand

z-31Alhoewel president Barack Obama van Amerika ’n voortydige aankondiging gemaak het van wie as ambassadeur na Kuba gestuur gaan word, het die Republikeine dadelik ’n stokkie voor die plan gesteek.

Dit is nou hoog onwaarskynlik dat ’n ambassadeur vanjaar na Kuba gestuur gaan word nadat Bob Corker, die voorsitter van die Senaat kommissie, gesê het dit gaan nie vanjaar gebeur nie.

Die Republikein, Bob Corker, het gesê die senaat se kommissie oor buitelandse sake het nog nie so ’n stap goedgekeur nie, en sal dit ook nie vir vanjaar goedkeur nie.

Die voortydige aankondiging van Barack Obama om Jeffrey De Laurentis as eerste ambassadeur aan te wys vir Kuba, kan as gevolg van die Senaat se besluite, geheel en al verwerp word, veral omdat die presidentsverkiesing oor enkele weke plaasvind.

Indien die Republikeine die verkiesing wen, kan Obama se voorbarige aanwysing van ’n ambassadeur finaal gekelder word.

Senator Bob Corker het later gesê die Kommissie het kennis geneem van Obama se voortydige aankondiging, maar geen amptelike dokumente is ingehandig nie, wat beteken daar is geen amptelikheid nie.

Obama beskik nie oor die gesag om ’n ambassadeur aan te stel sonder die goedkeuring van die Republikeinsbeheerde Senaat nie.

Foto – Senator Bob Corker