Motorrubriek – BMW X1 xDrive 25i

bmw-x-1-x-drive-25-iDie BMW X1 is die ideale sportnuts-voertuig vir ‘n gesin met kinders.  Daar is meer as genoeg plek om die kinders te akkommodeer en die veiligheid daarvan is ideaal en maak voorsiening dat die kleingoed ten alle tye ‘n veilige rit kan beleef.

Die heel nuutste X1 is gebaseer op die BMW 2 reeks en gemonteer op dieselfde onderstel as die Mini. Dit is korter en breër as die vorige model en is goed opgekikker. Die sierrooster aan die voorkant met die twee niertjievormige luginlate, die kolligte en hoofligte, met die onderste luginlate gee dit ‘n aggressiewe voorkoms maar wanneer die sierlike buitelyne en van die enjinkap saamgevoeg word met die vaartbelynde sykante, dan het jy ‘n voertuig wat aandag trek waar jy beweeg. Aan die agterkant is daar twee uitlaatpype wat hulle eie storie vertel. Breë allooi wielnawe sorg dat die voertuig stewig op die pad is.

Binneafwerking is tipies BMW met al die gerief wat nodig is. Die agterste sitplek kan met gemak vorentoe en agtertoe geskuif word en deur dit vorentoe te skuif word die pakplek aan die agterkant vergroot na ‘n handige 505 liter. Dit verseker dat daar meer as genoeg plek is om al die kleingoed en die ouers se bagasie te kan opneem. Die sitplekke voorsien die bekende BMW gerief en herinner ‘n mens eintlik aan die gemakstoele in die sitkamer by die huis.

Onder die enjinkap is daar ‘n 2,0 liter, viersilinder, turbo aangejaagde petrolenjin gemonteer wat 170 kW teen 5000 o.p.m. verskaf met 359 Nm wringkrag beskikbaar vanaf so laag as 1250 o.p.m. Dit beteken dat die wringkrag wat hierdie enjin verskaf meer is as enige ander diesel kragbron van hierdie grootte teen dieselfde toere. Hierdie kragbron is aan ‘n agtspoed outomatiese ratkas gekoppel en wanneer al die perde ingespan word is dit in staat om van 0 tot 100 km/uur te versnel in 6,5 sekondes. ‘n Drie silinder intree model is ook beskikbaar maar die x Drive 25i is ‘n ware “bederf” voertuig.

Dit is in permanente 4×4 aandrywing gekoppel en die grondvryhoogte is 183 mm. wat dit in staat stel om met gemak op die grondpaaie van ons land gebruik te kan word. Op grond sowel as teerpaaie is die voertuig in sy element. Rygerief is van hoogstaande gehalte en padgedrag voldoen aan al die vereistes van die bestuurder en sy passasiers. Die “Dynamic Stability Control” sensor sorg dat die kragverspreiding tussen die voor en agterwiele plaasvind soos nodig. Die stelsel is veral van hoë waarde wanneer daar op minder goeie terrein beweeg word.

Ongelukkig kom gemak en plesier teen ‘n prys en hierdie model se prys is R633 306 maar aan die einde van die dag is dit die prys werd. Ouers met klein kinders wat in die mark is vir ‘n voertuig in hierdie klas, kan gerus u naaste BMW handelaar gaan besoek en dit vir ‘n toetsrit neem.