Lufthansa neem Brussel volledig oor

z-13Die S’N Air-holding wat die eienaars is van Brussel Airlines, het 55% van hulle belange aan die Duitse lugvaartmaatskappy, Lufthansa verkoop.

Die inligting is Woensdag deur die woordvoerders van Lufthansa bekend gemaak na die maatskappy se raad ’n besluit geneem het ten gunste van die oorname.

Onbevestigde berigte dui daarop dat ’n finale ooreenkoms teen die einde van die jaar geneem sal word sodat Lufthansa vroeg in 2017 die 55% aandeel in sy naam kan registreer.

Volgens persberigte sal Lufthansa en Brussel Airlines hul gemeenskaplike doelstelling vir volledige oorname registreer na ’n algehele ooreenkoms met aandeelhouers bereik is.

Dit is nog nie duidelik wat van die handelsnaam Brussel Airlines gaan word nie, en nie een van die twee instansies het daarna verwys in pers onderhoude nie.

Lufthansa het met die oorname gewag tot Brussel Airlines ’n netto wins kon lewer, en dit is in 2016 bereik nadat dit sedert 2010 nie daarin kon slaag om winsgewend bedryf te word nie.

Lufthansa besit reeds die Oostenrykse Lugdiens en Swiss Airlines.