Jaarlikse plaasmoord herdenking

witkruismonumentDie jaarlikse herdenking van slagoffers van plaasmoorde en plaasaanvalle by die Witkruismonument net buite Pietersburg, beloof om ‘n besondere geleentheiod te wees.

Die geleentheid vind plaas die naweek van 30 September en 1 Oktober 2016.

Die Vrydagaand gaan daar bo by die kruise gekampeer word nadat alles deur die dag opgeslaan is. Die aand om 19:00 gaan die indrukwekkende beligting aangeskakel word, en sodra die beligting begin, sal almal bo by die kruise bymekaar kom, sal daar op die ramshoring geblaas word, gevolg deur ‘n gebed, waarna die laaste taptoe gespeel gaan word.

Dan is dit kuiertyd terwyl die jeug ‘n lewendige orkes gaan hê wat gepaste musiek gaan speel.

Die Saterdag kom almal bymekaar by die Ranch Motel, waarvandaan ‘n optog na die kruise gaan vertrek om 8:30. Die optog gaan baie stadig beweeg en gelei word deur ‘n konvooi motorfietsryers. Die jaar gaan die formele funksie bo by die kruise gehou word en nie onder soos vorige jare nie. Voertuie sal daarom bo parkeer word.

Die program begin met die sing van Die Stem, en die Skriflesing en gebed word deur die jeug hanteer.

Eet- en drinkgoed sal te koop wees,asook items soos T-hemde, hoede, en plakkers.

Tans word daar nog volstoom gebou aan die toilette, maar dié sal moontlik nog nie heeltemal klaar wees nie.

Daar is ook ander feeste wat plaasvind op dieselfde tyd dat die kruise verlig word. Hulle gaan kerse brand uit eerbied vir die boere, vroue en kinders wat vermoor is gedurende plaasaanvalle.

Mense wat die funksie gaan bywoon, word gevra om hulle voertuie duidelik met ‘n kruis te merk vir die duur van die naweek en met hoofligte aan te ry.

Persone wat kruise wil hê vir die Saterdag, moet dit voor die tyd reël. Dit is vir familie of naasbestaandes van iemand wat vermoor is in ‘n aanval. Die persone wat kruise ontvang, gaan elkeen iets sê sodra hulle die kruis ontvang het.  ‘n Kort profiel van die persoon wie se kruis iemand ontvang, en wat sou jy vir hom/ haar wou sê, as hy/sy langs jou sou staan, en jy die kruis ontvang.

Verdere navrae en besprekings van die kruise kan gedoen word by Lita, tel.  0604146129 of epos, [email protected].