Columbië: Vrede na halfeeu van stryd

z-11Die regering van Columbië en die FARC rebelle het hulle ooreenkoms gestand gedoen, die skietstilstand streng toegepas en uiteindelik die vredesonderhandelings onderteken.

Dit het uiteindelik gebeur nadat meer as 200 000 mense oor die tydperk gedood is in die konflik van 52 jaar.

President Juan Manuel Santos en die Revolutionary Armed Forces of Colombia (FARC) se hoof bevelvoerder Timolean Jimenez, het die finale ooreenkoms onderteken en dit met ’n stewige handdruk bevestig dat die strydbyl begrawe is.

Die twee leiers het die dokument van 297 bladsye onderteken met ’n pen wat vervaardig is van ’n geweer koeël se dop, terwyl duisende toeskouers juigend uitgeroep het, “lank lewe Columbië, lank lewe ons vrede”.

“Die skaduwee van burgeroorlog wat oor ons gehang het vir 52 jaar, het uiteindelik gewyk”, het die president onder luide toejuiging gesê.

Sowat 2 500 Colombiane, almal in spierwit klere, het die geskiedkundige gebeurtenis bygewoon terwyl duisende mense buite gewag het om die aankondigings te hoor.

Met een minuut stilte ter herdenking aan diegene wat oor jare gesneuwel het, en vyftig wit vlae wat daarna gehys is, het die Colombiaanse volk herenig.

Die mense hoop dat die sanksies nou opgehef sal word wat die land vir baie jare geknel het, en is dankbaar om te verneem dat die rebellemagte se naam geskrap is deur die Europese Unie as terroristebeweging.