Chemiese wapens gebruik in Soedan

z-42Amnestie Internasionaal het in ’n verklaring gesê dat hulle oor onbetwisbare bewyse beskik dat die Soedannese owerheid chemiese wapen gebruik teen sy eie burgers in die land.

Die dekadelange oorlog in Soedan duur onverpoos voort, en na wat berig word is kinders die grootste slagoffers van die burgeroorlog.

Amnestie Internasionaal het reeds sowat 250 gevalle geïdentifiseer wat slagoffers is van chemiese wapens wat teen hulle gebruik is deur die regeringsmagte.

Die beamptes van Amnestie Internasionaal het onderhoude gevoer met spesialiste in chemiese wapens, en met honderde burgers wat as slagoffers geïdentifiseer is, en gevind dat die foto’s wat beskikbaar gestel is, getuig van die misdaad.

In die omgewing van Darfur is minstens 30 aanvalle uitgevoer teen burgerlikes wat ernstige wonde opgedoen het van die chemiese stof wat gebruik is.

Die aanvalle wat reeds sedert Januarie begin is, het blykbaar op 3 September ’n hoogtepunt bereik toe etlike honderde burgerlike slagoffers getref is.

Chemiese oorlogvoering is internasionaal verbode verklaar weens die geweldige pyn wat veroorsaak word, en dikwels die dood laat intree.