Boere skepties oor Landbank hulp

z-41Die Landbank het vroeër bekend gemaak dat hy ’n totaal van sowat R400 miljoen beskikbaar stel aan boere as droogtehulp, maar byna geen landbouer het tot hede daarvoor aansoek gedoen nie.

Die Landbank het vroeër vanjaar die bedrag van R400 miljoen by die Nywerheidsontwikkelingskorporasie geleen om as droogtehulp aan boere beskikbaar te stel.

Droogtehulp lenings van prima min 3% is vir boere beskikbaar, maar landbouers het klaarblyklik bedenkinge oor die wysheid om van die hulp gebruik te maak.

Die bank glo egter ’n toestroming kan verwag word na die oes ingesamel is wat nie groot genoeg is om die insetkoste te verhaal nie, maar talle boere is skepties en reken dis ’n slenter om uiteindelik beslag te lê op die grond wat dan vir voornemende swart boere gegee kan word.

Boere kan egter van die bank se ander dienste gebruik maak soos wanneer hulle hul vee verkoop, die geld in die Landbank te deponeer en sodoende inkomstebelasting vryspring.