Wedvlugduiwe – Verskille met ander voëls

Daar is slegs drie hoofkleure wat by duiwe voorkom, naamlik bruin (wat uiters skaars is), rooi en blou. Blou en swart bevat dieselfde kleurpigmente, net die digtheid van die pigmentasie bepaal of die duif blou of swart vertoon. Wit word nie as ‘n kleur beskou nie omdat daar geen pigmentasie teenwoordig is nie. Wit is dus kleurloos. Alle ander kleure is bloot afwisselings van die drie hoofkleure.

Die duiwefamilie voer kropmelk (soortgelyk aan biesmelk by koeie) aan hulle kleintjies. Aan die binnewande van die wyfie sowel as in die mannetjie se krop ontwikkel ‘n kaasagtige emulsie wat die eerste 4 of 5 dae aan hulle kleintjies gevoer word.

‘n Klein duifie verdubbel sy gewig binne 48 uur nadat hy uitgebroei het. Dit is vinniger as enige ander voël– of diersoort en word toegeskryf aan die voedsaamheid van kropmelk.

Die duifsoorte is die enigste voëls wat water kan opsuig wanneer hulle drink sonder om hulle koppe op te lig. Ander voëls en hoenders skep die water met hulle bekke en lig dan hulle koppe op om die water in hulle kele te laat afloop.

Net soos by alle diere moet inwendige en uitwendige parasiete soms by duiwe bestry word. Hierdie saak word later in meer besonderhede bespreek. Die keuse van materiaal wat nie maklik broeiplek aan parasiete bied nie, is ‘n groot hulpmiddel in hierdie verband. ‘n Houthok of asbesplate is uiters geskik as ‘n steenhok nie gebou word nie. Wat ookal die materiaal wat gebruik word, ‘n goeie verflaag sal moontlike poreuse oppervlaktes uitskakel.

‘n Grondvloer is onhigiënies en ‘n broeiplek vir parasiete. Dit kan nie deeglik skoongemaak word nie en wurmeiers wat deur die duiwe afgeskei word, bly maklik agter. ‘n Sement– of plankvloer is gerieflik. Uiteraard moet die hok so gebou wees dat reën en wind nie daarin kan baljaar of ‘n trek plaasvind nie. ‘n Regstreekse wind is beslis nadelig. Die rigting waarin die hok front is dus baie belangrik. In Suid-Afrika is ‘n noordelike tot noordoostelike tot rigting normaalweg die beste.

Geen wind of trek in die hok beteken nie dat daar geen lugsirkulasie moet wees nie. Die wind moet net nie direk op die duiwe waai nie. Om goeie ventilasie te bewerkstellig, moet die hok aan die voorkant bokant 45 cm redelik oop wees met klein openinge bo aan die agterkant.

Die hok moet aan die agterkant effens hoër as aan die voorkant wees. Eerstens sal die ou warm en gebruikte lug wat die duiwe uitasem en wat styg, die hok by die hoogste punt verlaat terwyl vars lug van onder af in ‘n u-vorm aangevul word. Tweedens is dit gerieflik as die dak ‘n val na voor het want dan kan maklik gesien word of daar ‘n duif op die dak sit.

hok moet groot genoeg wees om die getal duiwe wat aangehou word, te huisves. Dit moenie te klein wees nie omdat die suurstof in die lug gou opraak wat veroorsaak dat hulle asemhalingstelsels nie doeltreffend funksioneer nie. Die verbrandingsprosesse in die liggaam kan dan nie volledig plaasvind nie en aldus gaan energie verlore met allerhande nagevolge soos onder andere onvoldoende vertering van kos en onderontwikkeling van spiere.

Witveer