Wedvlugduiwe – Hokke die hoeksteen

‘n Hok is een van die stewigste hoekstene vir sukses in wedvlugte. ‘n Hok wat nie aan goeie vereistes voldoen nie beteken dat die duiwe liefhebber nie konstant goed kan presteer nie. Sodoende sal hy maar altyd iemand bly wat net saamvlieg en af en toe ‘n klein bietjie geluk kry. As iemand ‘n hok het wat te maklik nat word, waar kieme floreer en waar die duiwe onveilig voel, sal hy nie baie lank aan die duiwesport deelneem nie voordat hy ander belangstellings sal probeer vind.

‘n Luukse en duur hok is egter nie ‘n voorwaarde of waarborg vir sukses nie. Die hok kan klein of groot, goedkoop of duur, enkelverdieping of dubbel wees. Dit kan op verskillende wyses ontwerp wees en steeds doeltreffend. Elke persoon se besondere omstandighede het ‘n rol te speel in die oprigting van sy hok. Om ‘n ideale hok vir alle omstandighede te bespreek en planne daarvoor op te stel, is dus wensdenkery. Tog is daar sekere basiese vereistes waaraan ‘n hok moet voldoen om vir ‘n duif ‘n tuiste te wees waarna hy te alle tye sal wil terugkeer. ‘n Goeie tuiste sal n duif aanspoor om vinniger terug te vlieg en verhoed dat hy by ‘n vreemde hok talm as hy daar verby vlieg of moontlik aandoen vir kos, water of rus.

By die ontwerp en bou van ‘n hok moet die volgende fundamentele vereistes in gedagte gehou word :

(a) Sekuriteit teen roofdiere soos honde, katte, roofvoëls, uitwendige en inwendige parasiete soos duiwevlieë, miere, luise en wurms, en weersomstandighede soos reën, hael, wind en uiterste temperature.

(b) Goeie ventilasie, dit wil sê, voortdurende vars skoon lug in sirkulasie en min temperatuurskommeling.

(c) Geskikte materiaal wat nie koud en nat word en broeiplek vir parasiete bied nie.

(d) Voldoende ruimte vir die getal duiwe daarin gehuisves.

(e ) Genoeg sitplekke.

(f) Voldoende sonlig vir die duiwe om in te ontspan.

Honde en katte het al groot skade aangerig deurdat hulle by ‘n hok ingebreek het of deur ‘n valopening daarin beland het. Al is die duiwe geen liggaamlike skade berokken nie, kan vergeet word om die res van ‘n wedvlugseisoen met die duiwe te presteer. Hulle sal so op hulle senuwees wees dat hulle in ‘n rustoestand meer energie en suurstof verbruik sodat hulle nie genoeg reserwes sal oorhê wanneer ‘n wedvlug dit vereis nie.

Wanneer ‘n duif in die hok op die vloer van die hok sit om kos of water in te neem, moet hy veilig voel. As die hok nie ‘n gang aan die voorkant het nie, moet die onderste deel (minstens 45 cm hoog) toe wees sodat die duif ongesteurd op die vloer kan sit. Dit sal hom veilig laat voel. Met ‘n gang aan die voorkant voel die duif buite bereik van ‘n hond of kat. Nodeloos om te sê dat ‘n hok stewig genoeg moet wees sodat ‘n hond nie kan inbreek nie.

Witveer