Wedvlugduiwe – Hoe vind ‘n duif sy hok?

WedvlugduiwehokDeur Witveer

Die eerste vraag wat ‘n oningeligte aan ‘n duiweboer vra, is hoe vind ‘n duif sy hok oor ‘n lang afstand?  Ongelukkig kon duiweboere en wetenskaplikes nog nie ‘n antwoord vind nie. Verskeie bespiegelings en bygelowe bestaan, maar nie een daarvan kon bevestig word nie. Meeste bespiegelings is vergesog en veroorsaak net verwarring. Sommige redenasies kan waar wees, maar is steeds onbevestig.

Myns insiens is die sterkste twee moontlikhede dat die duif sy posisie volgens die posisie van die son bepaal, of anders volgens die magnetiese veld van die aarde. Miskien is die antwoord nie so eenvoudig nie, maar ‘n samevoeging van verskeie elemente.

Dit is bekend dat diere en voëls oor ‘n fyner natuurlike waarnemingsvermoë as ‘n mens beskik. Hulle is gemaak met ‘n fyner aanvoeling van byvoorbeeld onweer, skerper sig en ‘n fyner reuksin. Hulle sien dat die son “om die aarde draai” en dus weet wanneer dit oggend of middag is. Hierdie waarneming gebruik die duif om te bepaal waar hy hom bevind, want die son is meer noord of meer suid as by sy hok. Hierdie waarneming gebruik hy om die regte koers in te slaan. Voorstanders van hierdie werkswyse se standpunt word bevestig deurdat duiwe moeilik rigting vind wanneer dit dig bewolk is. Die son kan dan moeilik gesien word en die duiwe sirkel langer om die loslatingspunt voordat hulle op ‘n koers besluit.

Wat ook hierdie redenasie steun, is dat wanneer daar sonvlekke (uitbarstings) op die son is, vind die duiwe ook hulle hokke stadiger as gewoonlik omdat die aangesig van die son anders lyk of dat die ligstrale beïnvloed word. Dit is egter nog nie bevestig nie.

Voorstanders van magnetisme glo dat die duif die magnetiese veld van die aarde aanvoel en dan ‘n soort van kompas in werking stel wat op die koördinate van sy hok ingestel is. Hy vlieg dan in die korrekte rigting, min of meer in die rigting van sy hok, en korrigeer as hy te ver afwyk. Hierdie gedrag is dikwels deur betroubare waarneming bevestig. Wanneer die duif naby sy hok in ‘n bekende omgewing beland (die laaste ongeveer 30 tot 50 km), vlieg hy pylreguit na sy hok toe. Wanneer dit swaar bewolk is, versteur die elektrisiteit vanuit die wolke die duif se waarneming (kompas) en sukkel hy om rigting te vind en te hou.

Wetenskaplikes het bevind dat trekvoëls en ook duiwe wat rigting kan hou, meer ysterstof in hulle grysstof het as ander voëlsoorte. Aldus kan hulle sterker op magnetisme ingestel wees, dog, hoewel dit betekenisvol is, is dit nog nie voldoende bewys dat die duif wel van die magnetiese veld van die aarde gebruik maak nie.