Vreemde bedmaats?

Patricia de lilleVreemde politieke koalisies word verwag teen more as die DA sy koalisievennote amptelik bekend gaan maak. Op hierdie stadium wil dit egter voorkom of die DA inderdaad in die politieke bed gaan spring met die radikale en uitgesproke kommunistiese en rassistiese EFF van Julius Malema.

In politieke kringe word gesê dit is heeltemal begryplik dat geen party sommer goedsmoeds met die ANC in koalisie wil gaan nie, aangesien sy reputasie van wanbestuur en korrupsie oor die afgelope meer as twintig jaar, enige moontlike vennoot se geloofwaardigheid onmiddellik in gedrang sal bring. Hoe dit egter moontlik gaan wees dat partye wat as absolute teenpole beskou word, met mekaar gaan probeer saamwerk, kan ‘n tot dusver ongekende oefening in politieke opportunisme word, meen waarnemers.

Skynbaar het die DA se Wes-Kaapse leier, die oud PAC-lid, Patricia de Lille,  agter die skerms gewoel om die EFF se grondgrypbeleid te akkommodeer in ‘n moontlike koalisie. Dit word gesien as ‘n toegewing deur die DA en ‘n oorwinning vir die EFF, met die landbouers as die waarskynlike groot verloorders.

Intussen doen sterk beweringe die rondte dat in terme van die ooreenkoms, die DA die burgemeester in Pretoria sal aanwys, en dat die EFF dan die burgemeester in Johannesburg sal aanwys, of omgekeerd.

Kleiner politieke partye se name word ook as moontlike koalisievennote met die DA genoem, naamlik die IVP, UDM en VF+.