“Tshwane wetstoepassers” self wetsoortreders

160811 Tshwane kontrakteurDie Tshwane Metroraad, wat Pretoria onder sy bestuur het, maak van kontrakteurs gebruik om elektrisiteitsaansluitings af te sny, terwyl die kontrakteurs self aan die verkeerde kant van die wet staan.

Die Vryburger se verslaggewer was getuie van ‘n voorval toe die voorafbetaalde elektrisiteitstoevoer van mnr. Hannes Scholtz van Faerie Glen summier afgesny is. Aangesien mnr. Scholtz op die voorafbetaalde stelsel werk, kan sy elektrisiteit nie agterstallig wees nie en was gevolglik in ‘n stewige krediet. Sy bewys daarvan het geen indruk op die arrogante kontrakteurs gemaak nie en hulle het die krag om 17:00 afgesny. Teen daardie tyd was daar niemand meer by die Tshwane metroraad beskikbaar om aandag aan die saak te gee nie.

By nadere ondersoek blyk dit dat die voertuig van die kontrakteurs hoogs onpadwaardig is en inderwaarheid ‘n gevaar kan wees vir ander motoriste. Al vier bande was nie meer diensbaar nie, en drie van hulle het geen of nouliks nog enige loopvlak gehad. Die lisensieskyf het reeds byna ‘n jaar gelede, op 30 September 2015, verval.

Mnr. Scholtz wou die metropolisie skakel om die onpadwaardige voertuig van die pad te verwyder. Hy het die bestuurder van die voertuig onder siviele arrestasie geplaas maar die het hom daarteen verset, mnr. Scholtz aangerand, sy loopfoon uit sy hande geklap sodat dié ongeveer R3 000 skade het. Daarna het hy probeer om mnr. Scholtz en Die Vryburger se verslaggewer raak te ry toe hulle hom wou verhinder om te ry.

Die saak is by die polisie aangegee en mnr. Scholtz beoog ook siviele optrede teen die Tshwane Metroraad.

Video: Die kontrakteurs se onpadwaardige voertuig

Foto: Een van die aggressiewe kontrakteurs