Talle sterf in Oostenrykse Alpe

Z 7(2)Dit is ’n geringe daling teenoor verlede jaar, maar in die 2016-somer, het 73 mense reeds die lewe gelaat in die Alpe van Oostenryk.

Bergklimmers, bergfietsryers en selfs enkele mense wat wou ski in die beperkte laag sneeu, het die lewe gelaat gedurende die somer wat nou aan die verbygaan is in Europa.

Te midde van ernstige waarskuwings, is meer as 1 200 ongelukke aangemeld waar mense beseer of gedood is in die ruwe berge.

By verre die meeste voorvalle is weens gladde oppervlaktes waar mense gly, terwyl ander weens onbehoorlike toerusting in ongelukke betrokke was.

Jaarliks sterf daar gemiddeld 60 tot 90 mense gedurende die somer in die berge van Oostenryk, en alhoewel die owerheid alles moontlik doen om mense te maan tot versigtigheid, bly die ongeluksyfer onaanvaarbaar hoog, en die sterftesyfer kommerwekkend hoog.

Die gemiddelde aantal sterftes gedurende ’n hele jaar beloop meer as 300 waarvan die meeste toeriste is wat die land besoek.