Spanning tussen Japan en Sjina verhoog

Die spanning tussen Japan en Sjina neig na breekpunt, oor die Oos Sjinese See Eilande dispuut wat heers.

Japan het Sjina Dinsdag amptelik gewaarsku dat die verhouding vertroebel word deur Beijing se siening dat die eilande in hulle gebied is.

Tokio het dringende gesprek met die Sjinese aangevra om die aangeleentheid op te klaar wat tans tot ernstige spanning lei.

Die Japanese Minister van Buitelandse Sake, Fumio Kishida, het die Sjinese ambassadeur aangespreek en gesê ’n dringende gesprek is nodig om die aangeleentheid oor gebiedswaters te bespreek.

Die minister het daarop gewys dat Japan dit onaanvaarbaar vind dat Sjina stappe doen wat groot spanning veroorsaak.

Die Sjinese ambassadeur het na die tyd aan joernaliste gesê die eilande onder bespreking is ’n integrale deel van Sjina se gebied, en dat dit dienooreenkomstig aan die Japanse Minister van Buitelandse Sake gesê is.

Sjina beskou dit derhalwe as ’n dispuut wat vreedsaam opgelos is.

Die ambassadeur sê hy het ook daarop gewys dat dit normaal is dat Sjinese skepe in die gebied beweeg, en dat deurlopende dialoog met mekaar gevoer kan word om enige misverstande uit die weg te ruim.

Spanning het vroeër ontstaan toe Japan waargeneem het dat Sjinese kuswag patrollies uitvoer in die omgewing van die eilande, waarna beswaar aangeteken is, maar wat deur Sjina ontken word dat hy ’n oortreding begaan.