SAL kan gelikwideer word

Die voormalige Hoof Uitvoerende Beampte van die Nationwide redery is glo oortuig daarvan dat die nasionale redery, SA Lugdiens, steeds besig is om elke moontlike metode te gebruik om kompetisie uit te skakel.

Hy sê dit ergste daarvan is dat dit word gedoen met belastingbetalers se geld.

Vernon Bricknell, die persoon wat Nationwide Airline in 1995 tot stand gebring het, en as hoof daarvan aangebly het tot die maatskappy gelikwideer is, wil blykbaar nou aansoek doen vir die likwidasie van SA Lugdiens indien hulle in gebreke bly om die R`04 miljoen te betaal soos die hof beveel het.

Die Johannesburgse Hooggeregshof het die bedrag aan Nationwide toegesê vir skade wat SAL veroorsaak het deur passasiers na bewering op ’n slinkse manier af te rokkel.

Die praktyk het glo etlike jare voortgeduur wat die ondergang van Nationwide beteken het.

Gerugte doen die rondte dat die Comair redery ook met ’n soortgelyke eis die hof nader, met ’n eis wat nagenoeg R875 miljoen beloop, plus die rente daarop wat die totale bedrag op R1,5 biljoen te staan bring.

Waarnemers sê dit kan die einde van SAL meebring indien dit toegestaan sou word en die regering nie bereid sou wees om die eise te betaal nie.