SA Vlaamperd – geskiedenis

VlaamperdDie Vlaamperd is tydens die 19de eeu in Suid-Afrika geteel. Dit is ‘n kenmerkende perd waar die Hantamperd of Boerperd aanvanklik met volbloed Arabierse hingste gekruis is. Lord Charles Somerset het blykbaar die gekeurde hingste in 1820 ingevoer. Die vroeër geskiedenis is nie klinkklaar duidelik nie omdat daar nie volledig van die telings rekord gehou is nie.

Na die einde van die Boerevryheidsoorlog in 1902, was ‘n paar Frieshingste na Suid-Afrika gebring. Die Friesperde is van Holland af verskeep van die Belgiese hawe Antwerpen. As gevolg hiervan is hierdie Frieshingste Vlaamse perde genoem met verwysing na die hawe van hul vertrek. Die naam word algemeen aanvaar in die gemeenskaplike taal en verwys ook na die nageslag van hierdie vroeë ingevoerde hingste. Hierdie Frieshingste is met Hantam en ander plaaslike merries gekruis en die nageslag het uiteindelik die grondslag gevorm van ‘n nuwe Suid-Afrikaanse ras.

Daar was ook ‘n paar ander uitgesoekte volbloedperde wat ‘n invloed in die skepping van die S A Vlaamperd gehad het. Die Vlaamperdras het sy oorsprong in die Wes-Kaap, wat beskou word as die mekka van hierdie ras. Dit is ‘n ware dubbeldoelperd. In die tuig is dit byna ongeëwenaard, met sy grasieuse optrede en stylvol hoë trap-aksie, terwyl hy as ‘n saalperd goed bekend is aan die mees kieskeurige ruiters.

Die Vlaamperd is uiters aanpasbaar in enkel- en dubbeltuig, as ‘n span van vier sowel as ‘n span van agt. Sy pragtige voorkoms en mak geaardheid, saam met ander eienskappe maak van die Vlaamperd ‘n baie gewilde ras vir vertoon by feeste, troues en toerisme. Die hoofkleur in hierdie ras is swart, maar vaalswart en donker bruin word by merries toegelaat. Die ideaal bly egter ‘n swart perd. Die Vlaamperd se hoogte is tussen 14,2 en 15,2 hand. Dit is ‘n liggewig perd met ‘n fyn beenstruktuur en word as ‘n gevestigde, onafhanklike ras en kosbare bate van Suid-Afrika beskou wat groter erkenning verdien. Die SA Vlaamperd telersvereniging is 1983 in Bloemfontein gestig.