Reuse maatskappy gee pad uit SA

Een van die wêreld se grootste sonkrag maatskappye, wat tegnologies vêr gevorder is met die opwekking van sonkrag as energiebron, het besluit om op te pak en Suid-Afrika te verlaat weens die patetiese optrede van die regering.

Die Duitse vervaardiger SMA Solar Tegnology het reeds sy Kaapstad fabriek gesluit weens die “lamlendigheid van die regering om betrokke te raak by groen energie”.

Die maatskappy het ook minder vleiende woorde geuiter teenoor Eskom se benadering oor energie verskaffing, en verwys na “skokkende verklarings” wat die kragvoorsiener se hoof, Brian Molefe gemaak het.

Die fabriek wat etlike jare gelede deur die Adjunk-Minister van Handel en Nywerheid, Mzwandile Masina, geopen is, word nou gesluit weens die onaanvaarbare benadering en optrede van die regering.

Die onttrekking van die vervaardiger kom te midde van die toenemende werkloosheid wat tans heers, asook in ’n tyd wat die beleggings van buite Suid-Afrika bitter nodig is om te verhoed dat die land in rommel status verval.

In ’n brief aan Rob Davies, die Minister van Handel en Nywerheid, het SMA vervaardiger die regering gestriem oor sy versuim om verpligtinge na te kom en hernuwing van die ooreenkomste deur te voer.

SMA sê sy aandeelhouers kon nie sien dat die regering enigsins van plan was om ’n volhoubare sakeklimaat te vestig waarin belê kan word nie.

Blykbaar kon geen woordvoerder van die departement bereik word om kommentaar te lewer oor die onttrekking van die vervaardiger nie, en kan Suid-Afrika aanvaar dat baie werksgeleenthede daarmee heen is.