Op die volksakker – "ons" en "hulle" is onvermydelik

Namate die stof van leë beloftes en nog leër bravade gaan lê, dring die waarheid van die nuwe SA opnuut deur tot wie net daaroor wil dink: 

koalisie regerings op plaaslike vlak, internasionaal ´n resep vir onbeholpenheid, gaan dienslewering nóg verder knou.

Die 1994-bedeling is ontwerp met één doel voor oë: onderdrukking van elke Afrikaner-aspirasie, eerstens op politieke terrein, ook op elke ander lewensterrein.

Die bedeling is só ontwerp deur die Engelsman en geldmag – dekade-lange bondgenoot van die ANC – as finale aanslag op die trotse klein volk wat hulle in twee Vryheidsoorloë tot stilstand baklei het.

Gaan Afrikaners vandag uiteindelik hierdie les leer?

Integrasie is nie die weg na vryheid nie  –  baie wys (met reg) na Europa en die VSA se gedwonge integrasie wat tans ontbrand in geweld, tog predik hulle dieselfde vir die Afrikaner hier ter plaatse.

Of dit “samewerking”, “koalisie” of wat ookal genoem word, die nuwe SA eis integrasie ten alle koste, en integrasie is so goed as volk-selfmoord!

“Ons” en “hulle” is steeds ‘n onveranderbare werklikheid – primêr weens botsende geloofswaardes, sedelike norme en ´n voortspruitende lewensbeskouing wat harde, eerbare werk stel bó uitbuitende praktyke, onderdrukking en onregmatige toeëiening van ander se regmatige leef- en werkruimte.

Ons kan selfs voorwaardelik toegee dat daar steeds diegene is wat meer het as ander.  Maar die deursnit Boere-Afrikaner het veel, omdat ons veel doen en hard werk, selfs teen elke moontlike wetgewende struikelblok.

“Ons” en “hulle” is toenemend ook binne ons bree volkskring toenemend onvermydelik.

Die verkiesingsveldtog het by uitstek gewys presies hoe buigsaam “beginsels” vir politici geword het.

Daar word politieke koalisies met enige groep denkbaar oorweeg in die naam van “samewerking”, maar nie een politikus sal opstaan en verandering van die opsetlik uitbuitende stelsel voorstel nie.

Vakbonde en sosialisme is ook nie die weg na vryheid nie – rondom ons sien ons die ontwrigting van 15 000 se “reg om te staak”, terwyl beurkrag maande reeds by die agterdeur insluip en moontlik deur ´n staking by die kragvoorsiener onvermydelik gaan word.

Die antwoord is reeds eeue bekend:

Afsonderlike ruimte vir elke volk om sy ideale na te streef, sy waardes en kultuur uit te leef, boweal sy skeppings-roeping uit te leef op elke terrein in dankbare gehoorsaamheid.

Uiteindelik kan “ons” net diegene wees wat daardie roepingsbewustheid en geloofserfenis deel.