Motor rubriek – Chevrolet Captiva 2.2D LT outomaties

Tot ongeveer die middel van 2013 was daar ‘n groot verskeidenheid Chevrolet Captivas beskikbaar met verskillende afwerkings waarvan daar 4×4 aandrywings, outomatiese of handrat ratkaste deel uitgemaak het en dan diesel of petrol kragbronne. Sedert daardie tyd is die reeks egter verminder na slegs drie modelle.

Hierdie modelle bestaan uit LT afwerking, 2,4 liter petrol kragbron met ‘n outomatiese of handrat ratkas en dan die 2.2 liter diesel wat beskikbaar is met slegs ‘n outomatiese ratkas.

Die model wat ons onder oë gaan neem is die luukse LT model met voorwiel aandrywing en met ‘n outomatiese ratkas. Die kragbron van hierdie voertuig is die 2.2 liter, vier silinder turbo aangejaagde diesel enjin en volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 10,0 liter/100 km en die versnelling van 0 tot 100 km/uur neem 9.8 sekondes.

Hierdie motor is veral geskik vir teerpad omstandighede maar staan nie terug vir die meer rowwe grondpaaie nie. Die gesofistikeerde McPherson stutte voor en die agterste “link” stelsel sorg dat  die padgedrag van uitstaande gehalte is. Hierdie is die ideale voertuig vir ‘n besoek aan die wildtuin en is net so handige voertuig vir moeder om die kinders na en van die skool te vervoer. Die grondvryhoogte ongelaai is 171 mm en dit verminder tot 134 mm wanneer die voertuig met bagasie en ander produkte gelaai is.

Binneafwerking is van goeie gehalte en kan met gemak vyf volwassenes huisves. Die tweede ry sitplekke kan heeltemal platgevou word om langer voorwerpe te kan vervoer. Die passasiergedeelte se vloer is plat terwyl daar tussen die voorste sitplekke pakplek is vir verskeie items. Vir die wat daarvan hou om sy/haar beker koffie saam te neem, is daar houers voorsien waar dit met veiligheid gelaat kan word. Die derde ry sitplekke is gerieflik genoeg om tieners te kan akkommodeer en die nodige proppe om toerusting in te prop, is beskikbaar.

Deel van die veiligheidstoerusting is ses lugsakke, ABS remme met EBD en BAS ondersteuning, drie punt veiligheidsgordels vir al die sitplekke, elektroniese stabiliteit beheer en ander toerusting wat behulpsaam is om die voertuig veiliger te maak.

Die meeste toerusting vir gerief is ook gepas soos byvoorbeeld lugversorging, elektroniese beheerstelsel vir die verstelling van die bestuurder se sitplek, snelheidbeheer, sleutellose toegang tot die voertuig, 18 duim allooi wielnawe, elektriesbeheerde vensters, voor- en agterkolligte en ‘n vol grootte metaal noodwiel.

Wanneer ‘n mens kyk na die “strikdas” embleem op die boonste gedeelte van sierrooster, gaan ‘n mens se gedagtes onwillekeurig terug na die dae toe daar net Chev en Ford “karre” op die pad was en dat daar by meer as een geleentheid vuis geslaan is oor watter een nou kwansuis die beste is. U kan gerus u naaste GM handelaar gaan besoek en die Captiva vir ‘n padtoets neem.Chevrolet Captiva 2.2D LT