Louisiana ramp lei tot chaos

Z 4(2)Die geweldige oorstromings in die Amerikaanse deelstaat Louisiana het duisende mense se huise en werkplekke oorstroom, en is talle doodskiste in strate gevind wat deur die stormwater meegesleur is.

Die stortreën wat dae lank geduur het, en steeds neersif, het reeds elf mense se lewens geëis, en meer as 20,000 moes gered word deur nooddiens werkers.

Louisiana is tien jaar gelede geteister toe die verwoestende orkaan Katina oor die landstreek enorme skade aangerig het.

In die afgelope paar dae het onophoudelike stortreën die grootste deel van die deelstaat getref, wat die owerheid verplig het om dit tot rampgebied te verklaar, en ’n noodtoestand uit te roep.

Ouer inwoners sê die oorstromings is veel erger as die orkaan van tien jaar gelede, en versekerings maatskappye sê dit is die ergste ramp in meer as 50 jaar.

Kenners meen die skade aan geboue en ander strukture beloop onberekenbare bedrae, en glo dit gaan etlike jare neem om alles te herstel.