Kaartspel Brug – Betroubare voorbereiding

Waar agt of meer spelers die spel tydens byeenkomste geniet, wat gewoonlik die geval is, word dieselfde brughande (kaarte) deur verskillende spelers gespeel om te bepaal wie die hoogste tellings daarmee kan behaal. Om verwysings makliker te maak, word die sitplekke deurgaans aangedui as  N,  S,  O,  en  W, volgens die windrigtings. Hierdie metode word ook altyd in koerante se brugrubrieke en in brugboeke gebruik. Die beurt om te deel wissel kloksgewyse van speler tot speler.

Terloops, tuisspelers in Suid-Afrika is gewoonlik nie bewus van al die verwikkelinge en ontwikkelinge in die brugwêreld nie. Daarom sal hulle sommige van die nuwertydse wetenskaplike beginsels interessant vind. Ernstige brugspelers se strewe is:  Wees  ‘n  voorloper  op  die  voorpunt  deur ‘n  voorstander  van  vooruitgang  en  voorspoed  te  wees.

Die kaarte word eers deur die spelers geskommel of deurmekaar gemaak. Dit word so gedoen:  Jy verdeel die pak, beeldsye na onder, in twee min of meer ewe groot hopies. Die beeldsy van ‘n kaart is die voorkant waarop jy kyk. Plaas die twee hopies op die tafel en bring ‘n hoek van elke hopie na mekaar toe. Buig die kaarte met die duime effens na bo. Skuif die twee gedeeltes ‘n bietjie nader aan mekaar sodat hulle ineen kan sluit en laat die kaarte afriffel. Skuif die twee gedeeltes inmekaar.

Die skommel behoort minstens vyf tot sewe keer op hierdie wyse gedoen te word sodat die kaarte deeglik deurmekaar is. Wanneer kaarte nie deeglik geskommel word nie, sal die kleure geneig wees om gelykop en oninteressant tussen die spelers verdeel te wees. Dit is omdat elke speler in beurt ‘n kaart van dieselfde kleur speel. As dit sonder skommel weer gedeel word, sal elke speler presies eweveel kaarte van elke kleur ontvang.

Om te deel word die pak kaarte in een hand gehou, beeldsye na onder, en met die ander hand word die kaarte een vir een van bo af geneem. Die deler deel een kaart per keer in kloksgewyse volgorde in vier hopies, beginnende aan sy linkerkant, totdat al die kaarte gedeel is. Nou kom ons by die eerste verskil tussen brug wat tuis en by ‘n klub gespeel word.

By ‘n klub word die kaarte in vier afskortinkies van ‘n vousakkie geplaas. As die sakkie toegevou word, lyk dit soos ‘n notebeursie. Elke afskortinkie is gemerk Noord, Oos, Suid of Wes sodat die speler wat in daardie stoel sit, weet watter kaarte om te neem om mee te speel. Elk van die vier hande word deurentyd apart gehou sodat die spelers by al die tafels dieselfde kaartverdelings as die ander spelers kan speel. Op hierdie wyse kan die vernuf van die verskillende spelers met mekaar vergelyk word. Gewoonlik word 24  hande so gedeel en in genommerde vousakkies geplaas.

‘n Brokkie interessante inligting is dat Sjina die drukkuns al voor die jaar 200 nC uitgevind het. Dit is sowat 1 300 jaar voordat Gutenberg die drukkuns in 1450 in Europa uitgevind het. Die vroegste bekende kaarte was so lank gelede as minstens 979 nC in Sjina gebruik. Die pak was in vier kleure verdeel en het munte verteenwoordig. Dit is moontlik dat Niccolo Polo, vader van Marco Polo, kaarte van Sjina na Venesië gebring het. Die vroegste verwysings na speelkaarte in Engeland was in 1465.

Kruistroef