EFF magtiger buite ‘n koalisie

Opposisie koalisieAlhoewel die EFF nie ‘n amptelike koalisie met enige party gevorm het na die plaaslike regeringsverkiesing nie, sal hy tog die DA-koalisie help om beheer te kry oor die metrorade van Pretoria, Johannesburg en Port Elizabeth.

Waarnemers reken dat hy daardeur vir hom ‘n geweldige magsposisie ingeneem het, omdat hy geen verantwoordelikheid aan ‘n koalisie verskuldig is nie, en enige tyd sy steun na die ander kant kan verskuif as dit hom om een of ander rede sou pas. Daarmee maak hy ook nie die deur na die ANC heeltemal toe nie, en as Zuma inderdaad teen Oktober om “mediese redes” na die agtergrond sou verskuif, laat dit sy deur oop na die ANC toe.

Intussen het die DA aangekondig dat hy wel ‘n formele koalisie kon vorm met VF+, Cope, ACDP, IVP en UDM. Volgens DA-leier Vusi Maimane, sal hierdie koalisie nie op beginselverskille fokus nie maar slegs op dienslewering en om Suid-Afrika ‘n beter plek te maak.

Ook VF+-leier, dr. Pieter Mulder, is opgewonde oor die koalisie. @Ons is verantwoordelik en wil saamwerk tot voordeel van alle Suid-Afrikaners. Ons wil in vrede en harmonie leef. Ons soek nie rassepolarisasie nie en ons glo regtig dit kan werk,” was dr. Mulder se kommentaar.