Drie miljoen Turke in protes optog

Meer as twee miljoen Turke het saamgedrom in die land om op “demokratiese wyse”  die poging van ’n staatsgreep te verwerp wat op 15 Julie deur duisende mense uitgevoer is, maar uiteindelik misluk het.

Die Turkse burgers het in Istanboel saamgetrek op die bekende Yenikapi Park om daarmee hulle afkeur te kenne te gee aan die poging om die Turkse regering omvêr te werp.

Die optog is die grootste wat nog ooit in die geskiedenis van Turkye gehou is, en was gekenmerk deur die duisende vlae, baniere en plakkate.

Mense het van oral per bus, trein en motors na Istanboel gereis om die geleentheid mee te maak, en van die organiseerders meen dit kon selfs meer as 3 miljoen mense gewees het.

Die skare het nie net hulle steun aan die regering probeer demonstreer nie, maar het ook hulle afkeer te kenne gegee aan die prediker, Fetullah Gulen, wat in Pennsylvania, woon en na bewering agter die staatsgreep poging sit.

President Recep Tayyip Erdogan het kort na die mislukte staatsgreep die prediker daarvan beskuldig dat hy agter die poging sit, maar die prediker het dit ten sterkste ontken.

Erdogan het die skare toegespreek en gesê diegene wat teenwoordig is, “het hulle name met goud ingeskryf in die geskiedenis van die land”.

Hy het ook gesê Turkye wil so spoedig moontlik die verhouding met president Poetin van Rusland herstel, maar het niks gerep oor die Europese Unie se besluit om die gesprek oor lidmaatskap te staak nie.