ANC maak ook op vriende aanspraak

Danny JordaanNadat die DA met swier aangekondig het dat hy na die onlangse plaaslike regeringsverkiesing die wenner is in die Nelson Mandelabaai Metro, wat Port Elizabeth insluit, het die ANC se Danny Jordaan gesê die DA moet nie te seker wees van homself nie.

Alhoewel die DA die meeste stemme behaal het, het hy nie die meerderheid van vyftig plus een behaal nie, wat beteken dat hy koalisievennote moet kry. Dit is egter so dat die ANC ook kan probeer om deur middel van ‘n koalisie die mag in hande te hou. Alhoewel Jordaan nie verder uitgewei het oor watse moontlike troefkaart hy in hande het nie, het hy die insinuasie gelaat dat hulle wel moontlik teen alle verwagtinge in enkele vriende het wat hulle kan help om aan hulle posisie van mag vas te klou.

Dit kan ‘n besonder interessante verskynsel wees as ‘n bepaalde politieke party op een plek met die ANC ‘n koalisie aangaan, en op ‘n ander plek met die DA. Dit kan die volgende vyf jaar lei tot heelwat onbestendigheid as politieke partye oor en weer van koalisievennote kan verander, meen politieke ontleders.