Werksverliese in talle sektore gely

Volgens die kwartaallikse indiensnemingsopname het die nie-landbousektor in die Suid-Afrikaanse ekonomie ‘n verlies van 15 000 werksgeleenthede in al die sektore, behalwe konstruksie en gemeenskapsdienste gehad.

Indiensneming het in die eerste kwartaal van vanjaar met 0,2% gedaal na 9,2 miljoen mense in die formele nie-landbou sektor van die ekonomie.

Die betrokke opname versamel data in die myn-, vervaardiging-, elektrisiteit en gas-, konstruksie-, groothandel-, sake- asook gemeenskap- en persoonlike dienste sektore.

Volgens die jongste syfers wat die statistikus-generaal, Pali Lehohla, vrygestel het, was die grootste hoeveelheid werksverliese in die groothandel, hotel- en restaurant sektor.

In die groothandelsektor het 27 000 poste verlore gegaan, terwyl 7 000 mense in die hotel- en restaurantbedryf hulle werk verloor het.

Indiensneming in die mynsektor het vir die sesde agtereenvolgende kwartaal met sowat 4 000 werknemers verminder gedurende die eerste kwartaal van 2016.

Finansies en besigheidsdienste het 9 000 poste verloor nadat indiensneming met 41 000 in die laaste kwartaal van 2015 verhoog het.