Weer ‘n haatspraak klag teen Zuma gelê

Nog ‘n klag van haatspraak is teen president Jacob Zuma by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien nadat hy die afgelope naweek ‘n aanval op blankes gedoen het tydens toesprake by verkiesingsaamtrekke.

Hy het in Tembisa aan die Oos-Rand onder andere by ‘n byeenkoms aangevoer blankes is onderdrukkers en verantwoordelik vir swart mense se armoede.

Hierdie aanval is voortgesit voor ‘n skare in Port Elizabeth, waar hy gesê het swartes kan nie deur die “nasate van apartheid” regeer word nie. Hy het voorts daarop gesinspeel dat blankes soos ‘n “giftige slang is wat geboorte aan nog ‘n slang gee”.

Die klaer, die VF Plus, het hierdie uitlatings as skokkend beskryf en gesê die party sal voortgaan om klagtes in te dien tot die MRK optree.

Zuma is veronderstel om teen die einde van hierdie maand te antwoord op sy Van Riebeeck-uitlatings, waaroor daar ook ‘n klag by die MRK ingedien is.