Wedvlugduiwe – ‘n Ware staaltjie

Hierdie rubriek is ‘n praktiese poging om “die prins van die ruimte” soos Dolf van Niekerk ‘n duif beskryf, bekend te stel en wenke aan duiweboere te gee om oor te dink.

Dit is nie ‘n wetenskaplike verklaring vir elke verskynsel of gebeurtenis nie, tog word die wetenskap in ag geneem. Afleidings en gevolgtrekkings wat gemaak word, is suiwer op praktiese ervaring gebaseer. Waar wel melding van wetenskaplike bevindings gemaak word, soos by oorerflikheid en voeding, is dit nie die resultate van eie navorsingswerk nie, maar kennis van navorsers en ervare duiweboere en uit gesaghebbende publikasies opgedoen.

Die wedvlugduiwesport in sy geheel is ‘n wetenskap wat ernstig toegepas moet word om enigsins sukses te behaal. Buiten hierdie ernstige sake is daar egter ook ligter, luimige en komiese belewenisse in die duiwesport wat ek meegemaak het en wat ek nou gaan verklik. Om die betrokke duiweboere verleentheid te spaar gebruik ek algemene voorname as skuilname. Alhoewel sommige van my relase vergesog klink, is dit eg. Die waarheid is soms minder geloofwaardig as ‘n sprokiesverhaal.

Daar was die geval van Jan wat gedurende die wedvlugseisoen na ‘n ander huis in die omgewing verhuis het. Ywerige duiweboer wat hy was het hy dit so met die meubelvervoerders gereël dat hulle sy meubels en ander besittings die Saterdagoggend eerste oplaai en sy duiwehokke, wat in seksies van 3 meter opgedeel was. Dit kon net op ‘n oop vragmotor gedoen word. Jan sou eers sy wedvlugduiwe kon klok voordat die hokke verskuif word.

Soos dit altoos maar gaan, loop dinge skeef. As gevolg van swak weersomstandighede word die duiwe ‘n uur later losgelaat en die wedvlug is toe boonop stadig. Die meubelvervoerders kon nie langer wag nie en Jan het later al sy duiwehokke laat oplaai, behalwe die een waarin hy sou klok. Soos te wagte het hy alle moontlike vertragingstegnieke ingespan om tog net minstens sy eerste duif te kon klok. Sy oë was voortdurend op die blou lug gerig met skietgebedjies dat ‘n spikkeltjie sigbaar moet raak. Alles tevergeefs. Op die ou end moes Jan tou opgooi en ook die laaste hok laat oplaai.

Ten spyte van die doodsklok wat gelui het, het Jan steeds na die blou lug gestaar en vir die onmoontlike gehoop. Hyself het saam op die vragmotor gery toe dit wegtrek. Na ongeveer 50 meter, verskyn die stippel waarop Jan gehoop het. Hy laat die vragmotor onmiddellik stilhou, blaas op sy fluitjie wat hy pal by hom dra, en sowaar …. die bonte maak vlerke toe. Verbasend herken die duif sy hok op die vragmotor en woertswarts glip hy by die valopening in. Jan was amper gouer in die hok as die duif en siedaar, hy klok ‘n klubwenner.

Nee mense, hierdie is nie ‘n opgemaakte storie nie. Verskeie werkers van die vervoerfirma kan dit bevestig.

Het jy geweet?  Daar word algemeen aanvaar dat die stamvader van die wedvlugduif, wat deur middel van verskeie oordeelkundige kruisings geteel is, die Europese kransduif is. Ongelukkig is geen aantekeninge oor die kruisings gemaak nie en bestaan daar net bespiegelings. Die wedvlugduif se wetenskaplike naam is Columbia Livia.

Witveer