Wat sit werklik agter Brexit

Terwyl die Europese Unie (EU) nog die bitter uitslag van die referendum in Brittanje probeer verteer, het ’n vooraanstaande senior Duitse ekonoom, Hans-Werner Sinn ’n ander perspektief uitgelig oor die Britte se uittrede.

Hy sê die ware rede vir die Britte se uittrede word deur die politici verswyg, en hy wil daarom sekere tersaaklike aspekte uitwys.

Hans-Werner Sinn staan reeds vir meer as 15 jaar aan die hoof van ’n welbekende instituut wat gesaghebbende menings formuleer en vrystel, ongeag of dit nadelig is vir regse of linkse politici.

Hy het weer eens geen doekies omgedraai oor die Britte se uittrede nie, en het daarmee die Europese Unie nie gespaar nie.

Hans-Werner Sinn sê diegene in die EU wat nou hulle rug op Brittanje draai, is slegte beleidmakers.

Hy sê diegene wat nou ernstig is dat Brittanje so gou moontlik uitgeskop moet word, wil op interne gebied van Europa ’n superstaat maak en ekstern ’n isolerende stelsel te ontwikkel wat die res van die wêreld uitskakel.

Die mening van die 67-jarige hoogleraar in ekonomiese sake wat verbonde is aan die Universiteit van München sê die EU behoort ’n noue verbond aan te gaan met die Britte soos wat die geval met Noorweë is.

Hy sê die onwettige migrante wat deur die EU toegelaat word in Europa, is nog ’n rede waarom die lus vir lidmaatskap kwyn, want Brittanje sit al jare opgeskeep met die gewelddadigheid wat die migrante veroorsaak.

Die ekonoom wys ook daarop dat Brittanje keelvol is vir die instroming van mense uit Europa, en die 3,3 miljoen wat reeds in die land is, bedreig die rustigheid in die land.

Hy sê die grootste rede vir Brittanje se uittrede is die feit dat die migrante uit ander lande dit ekonomies voordelig vind om na Brittanje te verhuis, terwyl dit geen voordeel inhou vir die landsburgers nie.

’n Ander belangrike rede is die stadige wyse waarop migrante betrek word om belasting te betaal, wat voordeliger is vir hulle as vir die land se burgers, en behoort deur die EU verander te word.

Die mense van Brittanje wil nie sien dat migrante beter voordele geniet as die burgery nie, en daarom het hulle ten gunste van uittrede gestem, sê die ekonoom.