Waarheid oor Sodwana gastehuis uitgelig

Die gastehuis op Sodwanabaai is toegemaak na ‘n besoek deur ‘n span van Richardsbaai se  gesondheidsdepartement besoek as deel van ‘n provinsiale ondersoek teen die eienaar weens vermeende rassisme.

Andre Slade het in die nuus beland nadat die Durbanse vrou, Sizakele Msimango, sy e-pos aan haar op die sosiale media geplaas het waarin hy haar meedeel: “Ons akkommodeer nie meer swartes en regeringsamptenare nie”.

Honderde ANC-ondersteuners het vandeesweek by sy gastehuis betoog terwyl die LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, Sihle Zikalala, wat ook die ANC se provinsiale voorsitter is, toesprake gelewer en met die media gepraat het.

Zikalala het ook aanklagte van haatspraak, handeldryf sonder ‘n lisensie en belastingontduiking teen Slade by die plaaslike polisiestasie aanhangig gemaak.

Die ANC-jeug het ook ‘n memorandum oorhandig waarin versoek word dat Slade sy tasse moet pak en Sodwanabaai onmiddellik verlaat.

Volgens Zikalala sal Slade binnekort uit die gebied gesit word, en het bygevoeg dat hy nêrens in Suid-Afrika hoort nie.

Hy het onder meer gesê Slade het ‘n ooreenkoms verbreek wat etlike jare gelede tussen hom en die Ingonyama-trustraad gesluit is om die grond in die hande te kry waarop hy sy besigheid bedryf.

Plaaslike swartes het uiteenlopende gevoelens omtrent hom, maar sommige het hom as ‘n goeie man beskryf wat sy swart bure met water help.

Daar is ook diegene wat benadruk dat Slade nie die probleem is nie, maar die misdaad in die dorp, en dat hy verskeie inbrake gehad het.

Die voorsitter van die Gemeenskap Toerisme Vereniging, Sbusisi Mlambo, het opgemerk dat regeringsamptenare in gebreke gebly het om te betaal nadat hulle by sy gastehuis gebly het. “Die waarheid moet vertel word sonder om net na een kant van die storie te kyk,” het Mlambo gesê.

Foto – Sodwanabaai