Vreugde oor Afrikaans by UV dalk te gou

Die groot vreugdevure oor vandeesweek se taaluitspraak ten gunste van Afrikaans in die hooggeregshof in Bloemfontein kan al hoe laer begin brand indien die saak deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) op appèl geneem word.

En uiteindelik kan dit self in die konstitusionele hof draai soos die voorsitter van die UV-studenteraad, Lindokuhlke Ntuli, in sy reaksie te kenne gegee het.

Sy afwysing van die uitspraak en aandrang dat die saak verder gevat moet word, is eenvoudig gebaseer op – “ons studente aanvaar dit (die hofuitspraak) nie”.

Dit klink soos ‘n bedekte dreigement in die lig van die gewelddadige opstande wat op kampusse georganiseer is met die politieke doelwit om Afrikaans en ‘n Afrikaner kultuur by verskeie universiteite tot niet te maak.

Die pas afgelope hofuitspraak het egter glo die aanspraak dat dit vir die eerste keer gebaseer is artikel 29(2) van die Grondwet wat die reg op moedertaal verskans, spesifiek met betrekking tot universiteite.

Die regter het in sy uitspraak daarop gewys dat histories Afrikaanse universiteite ‘n verantwoordelikheid het om die taal te beskerm.

Voorts het hy opgemerk dat daar geen bewyse is dat ‘n parallelmediumbeleid tot rassesegregasie sal lei nie, wat die UV se hoofargument teen so ‘n beleid is.

Ook die Universiteit van Pretoria (UP) voer dit as ‘n hoofrede aan waarom hy Afrikaans uitgeskuif het, en sal waarskynlik juis daarom volgende op die lys wees om hof toe geneem te word.

Dit gaan egter moeiliker wees om die Universiteit van Stellenbosch (US) vas te vat omdat sy taalbeleid lyk asof dit nog ruimte vir Afrikaans bied, maar dit in werklikheid ‘n stille dood wil laat sterf deur agter die studente se voor- en afkeure te skuil.

Om Afrikaans weer ‘n staanplek te gee by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) sal waarskynlik ‘n haas onbegonne taak wees weens die bepaalde samestelling van sy akademici en studente.

Regsdinge in die afgelope jare het getoon dat ‘n oorwinning of twee gewoonlik eenvoudig later uitgeknikker word sodra die saak verder geneem word. Die troefkaart is die konstitusionele hof, waar die grondwet sogenaamd getoets moet word.

Die pas afgelope uitspraak van regter Mogoeng Mogoeng in die konstitusionele hof ten gunste van die Pretoriase metroraad om die laaste 25 straatname uit die Afrikanergeskiedenis te verwyder en verander, is baie insiggewend.

Intussen het die UV in sy reaksie aangedui dat die jongste hofuitspraak bestudeer word.