Volksdigter se huis op Heidelberg gestroop

Die geliefde volksdigter, A.G. Visser, se huis op Heidelberg is deur inbrekers gestroop.

Die strooptog is deur patrolleerders van Heidelberg Sentraal GPF ontdek nadat hulle voorwerpe aan die agterkant van die huis opgemerk het.

Hulle het ondersoek ingestel en ontdek dat die huis se elektriese kabels, ligskakelaars, wasbakke asook venster- en deurknippe gesteel is.

Daar is glo weinig van die oorspronklike meubels van dr. Visser oor en die glaskaste met gedenkwaardighede het ook deurgeloop.

‘n Veiligheidswag is blykbaar na die inbraak deur die plaaslike munisipaliteit aangestel om die huis op te pas.

Die munisipaliteit en die oorspronklike eienaars, Remgro (die eertydse Rembrandt-maatskappy wat aan die Rupert familie behoort) is tans in ‘n hofstryd gewikkel. Die saak sal na verwagting op 10 Oktober voorkom.

Intussen kan geen besluite geneem word totdat die hofsaak afgehandel is nie.

Remgro het die huis in die vroeë 1990’s aan die destydse munisipaliteit geskenk op voorwaarde dat dit as ‘n kultuur-historiese museum bedryf moet word en die eiendom nie vervreem mag word nie.

Intussen het Remgro die munisipaliteit gedagvaar omdat hierdie voorwaardes nie nagekom is nie.

Visser (1878 – 1929) was ‘n tydgenoot en vriend van die digter, Eugène Marais. Hy was besonder geliefd as ‘n arts en Afrikaanse digter.

Foto – Binnekant van ‘n vertrek van die gestroopte AG Visser-huis