Vier SAUK joernaliste moet werk terugkry

Die vier joernaliste van die SAUK-8 se afdanking was onwettig en hulle moet weer in hulle onderskeie poste heraangestel word.

Regter André van Niekerk het in die arbeidshof in Johannesburg dié beslissing van regter Rob Lagrange voorgelees dat Foeta Krige, Suna Venter, Jacques Steenkamp en Krivani Pillay weer hulle werk moet terugkry.

Die SAUK het die saak met koste verloor.

Lagrange het in sy uitspraak, wat deur regter Van Niekerk voorgelees is, die interdik toegestaan wat beveel dat die SAUK nie met hul tugprosedures teen die joernaliste kan voortgaan nie.

Nog twee ander joernaliste van die openbare uitsaaier se saak teen hulle afdanking sal na verwagting Donderdag in die arbeidshof voorkom.